
Gestel Jacob Zuma is skuldig.
Sê nou maar Helen Zille se versoek dat die Nasionale Vervolgingsgesag hul ondersoek moet voortsit, is suksesvol en ’n hof bevind Zuma skuldig aan bedrog, geldwassery en belastingontduiking. Wat sal mense se reaksie wees?
Sal mense bly wees? Dit sou immers beteken reg en regverdigheid het geseëvier. Dit sal ’n reuse-sukses vir ons wankelende regstelsel wees. Dit sal beteken dat ons howe nie meer swoeg onder politieke druk nie, dat hulle bereid is om selfs die land se president se saak objektief en onpartydig te beoordeel.
Tot ’n sekere mate sal mense dalk trots kan herwin in die res van die wêreld se oë. Die Britse media het immers reeds besluit Suid-Afrika is gedoem onder Zuma se bewind. Die res van die wêreld gun hom nie veel meer nie.
Of sal mense geskok wees? Dat Madiba se ideale nou tot dít gekom het: ’n staatspresident wat ’n skelm is. Dat bedrog en korrupsie so algemeen
geraak het dat ons eie leier homself daaraan skuldig maak en vir jare lank verkondig dat hy nooit enige misdaad gepleeg het nie. Suid-Afrika sal weer die slaansak van die wêreld word: Die Afrikalandjie wat so hard probeer het om ’n demokrasie te laat werk, maar dit net nie kon regkry nie. Ons sal weer van voor af moet begin, en dit gaan baie lank duur voor ons weer met die res van die wêreld kan saampraat oor politiek.
Maar gestel Zuma is onskuldig.
Sal mense nie dan dalk méér geskok wees nie? Is daar nie ’n groep mense wat dalk wil hê hierdie dansende ANC-leier met die baie vroue móét skuldig wees nie?
Hierdie swart man met die brilletjie en die stortkop waaraan mense al so gewoond geraak het. Is daar nie ’n drang in elkeen van ons om ’n sondebok te probeer uitsoek vir hierdie blykbaar mislukte droom wat ons die “Nuwe Suid-Afrika” noem nie? Die Afrika-renaissance wat toe nooit gebeur het nie, of wat bloot ’n term was wat Thabo Mbeki se toespraakskrywer uitgedink het, maar nooit ingedink het nie. Of sal daar tog ’n sug van verligting geslaak word?
Dit sou seker nie verkeerd wees om Zuma vroegtydig op die brandstapel te gooi nie. Alles tel teen hom, en hy het al uitlatings gemaak wat
menige tannie in haar tee laat stik het.
Tog moet ons versigtig wees om te vinnig te oordeel. Die vorige bedeling het beslis ook sy foute en omstrede leiers gehad, en om ’n diverse
land soos Suid-Afrika te regeer en almal gelukkig te hou, is nie kinderspeletjies nie.
Kom ons kyk maar wat die Hoë Hof se bevinding is oor Zille se aansoek om die saak teen Zuma te laat herleef. Dalk kan dit ’n bietjie lig werp op hierdie onsamehangende episode van die ANC-sepie. In ieder geval moet ons maar onsself solank regmaak vir ’n president wat met skrapse luiperdvelletjies tussen ander politieke leiers op die wêreldverhoog gaan ronddans. Ons kan rondstaan, vingers wys en lag; of ons kan saamdans.





