11
Mar
10

Francois van Coke en Pierre Greeff by Aandklas, 9 Maart 2010

Die Facebook-blad  het gesê die gig begin 20:00. Daarom het ek en vriende vroeg gegaan, want “plek is beperk”.  Francois van Coke en Pierre Greeff, twee van die groot helde in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, het hul acoustic set van Fokofpolisiekar-, Heuwles Fantasties-, Lukraaketaar- en Van Coke Kartel-liedjies inderwaarheid eers om 22:30 afgeskop. Dit het my egter nie die minste gepla nie, want Aandklas is een van die geselligste kuierplekke op Stellenbosch en tyd daar spandeer is time well spent.

Ek het beide Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties ‘n week tevore in ‘n skare van derduisende mense beleef. Hierdie was egter in sterk kontras: Geen moshpit, geen dwelmdronk, sweterige lywe en  geen maniese aanhangers wat uit die skare begelei moet word nie. Net ‘n handjievol mense wat met ‘n drankie in die hand sit of staan en toelaat dat intieme en hartroerende musiek oor hulle spoel.

Dit het amper gevoel asof ‘n mens Francois en Pierre persoonlik ken en hulle ‘n klein show vir ‘n paar vriende speel. Asof elke liedjie aan jou opgedra word.  

Die twee, wat bygestaan is deur Fred van Thieve (en vroeër Die Helde), het afgeskop met ‘n paar Lukraaketaar-nommertjies. Pierre het dit goed opgesom: “It’s been a while.” Dit was heerlik om saam te sing op daai vergete akoestise band wat ons almal so opgewonde gemaak het in ons skooldae. Die Lukraaketaar-liedjies het gedagtes van jonkwees en vergete herinneringe opgeroep.

‘n Hoogtepunt was beslis Francois se cover van Koos du Plessis se “Skadu’s teen die Muur”. Ek is ‘n groot aanhanger van wyle Du Plessis, maar ‘n mens kon sien meeste mense onthou die liedjie net vaagweg vanuit hul pa’s se musiekversamelings. Die aweregse snit het perfek by die set ingepas en ek sien uit om dit op Van Coke Kartel se nuwe CD, Skop, Skiet en Donner, te hoor.

Dit was veral interessant om die akoestiese weergawes van Die Heuwels Fantasties se elektroniese musiek te hoor. Veral “Oorlewing 101” was indrukwekkend en almal het natuurlik oudergewoonte saamgesing op “Pille vir Kersfees”.

 Daar was geen beter manier om die aand af te sluit nie as met die liedjies wat ons al soveel keer uit volle bors saamgesing het op die maat van Johnny se elktriese kitaar en Snake se kragtige dromme. “Ek Skyn (Heilig)” en “Hemel op die platteland” se akoestiese weergawes is net so sterk en meesleurend en die gehoor het net so hard saamgesing.  

Die gig is verby en ek weet het iets groots beleef. Nie groot en skouspelagtig soos Ramfest nie, maar groots op die intiemste denkbare manier: Saam met my vriende en my  helde.


0 Responses to “Francois van Coke en Pierre Greeff by Aandklas, 9 Maart 2010”



  1. Lewer Kommentaar

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.