Archive for the 'Fokofpolisiekar en vriende' Category

11
Mar
10

Francois van Coke en Pierre Greeff by Aandklas, 9 Maart 2010

Die Facebook-blad  het gesê die gig begin 20:00. Daarom het ek en vriende vroeg gegaan, want “plek is beperk”.  Francois van Coke en Pierre Greeff, twee van die groot helde in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, het hul acoustic set van Fokofpolisiekar-, Heuwles Fantasties-, Lukraaketaar- en Van Coke Kartel-liedjies inderwaarheid eers om 22:30 afgeskop. Dit het my egter nie die minste gepla nie, want Aandklas is een van die geselligste kuierplekke op Stellenbosch en tyd daar spandeer is time well spent.

Ek het beide Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties ‘n week tevore in ‘n skare van derduisende mense beleef. Hierdie was egter in sterk kontras: Geen moshpit, geen dwelmdronk, sweterige lywe en  geen maniese aanhangers wat uit die skare begelei moet word nie. Net ‘n handjievol mense wat met ‘n drankie in die hand sit of staan en toelaat dat intieme en hartroerende musiek oor hulle spoel.

Dit het amper gevoel asof ‘n mens Francois en Pierre persoonlik ken en hulle ‘n klein show vir ‘n paar vriende speel. Asof elke liedjie aan jou opgedra word.  

Die twee, wat bygestaan is deur Fred van Thieve (en vroeër Die Helde), het afgeskop met ‘n paar Lukraaketaar-nommertjies. Pierre het dit goed opgesom: “It’s been a while.” Dit was heerlik om saam te sing op daai vergete akoestise band wat ons almal so opgewonde gemaak het in ons skooldae. Die Lukraaketaar-liedjies het gedagtes van jonkwees en vergete herinneringe opgeroep.

‘n Hoogtepunt was beslis Francois se cover van Koos du Plessis se “Skadu’s teen die Muur”. Ek is ‘n groot aanhanger van wyle Du Plessis, maar ‘n mens kon sien meeste mense onthou die liedjie net vaagweg vanuit hul pa’s se musiekversamelings. Die aweregse snit het perfek by die set ingepas en ek sien uit om dit op Van Coke Kartel se nuwe CD, Skop, Skiet en Donner, te hoor.

Dit was veral interessant om die akoestiese weergawes van Die Heuwels Fantasties se elektroniese musiek te hoor. Veral “Oorlewing 101” was indrukwekkend en almal het natuurlik oudergewoonte saamgesing op “Pille vir Kersfees”.

 Daar was geen beter manier om die aand af te sluit nie as met die liedjies wat ons al soveel keer uit volle bors saamgesing het op die maat van Johnny se elktriese kitaar en Snake se kragtige dromme. “Ek Skyn (Heilig)” en “Hemel op die platteland” se akoestiese weergawes is net so sterk en meesleurend en die gehoor het net so hard saamgesing.  

Die gig is verby en ek weet het iets groots beleef. Nie groot en skouspelagtig soos Ramfest nie, maar groots op die intiemste denkbare manier: Saam met my vriende en my  helde.

Advertisements
12
Feb
10

187 en Am I Collective

Wil net iets anders as die ANC-logo op my voorblad hê. Hierdie foto is gedoen in ‘n saamwerkpoging tussen 187 Pictures en AmI Collective. Een van die coolste beelde van die gode van Afrikaanse rock.

12
Okt
08

Waaksaam en Uitgepassde Kartel

Gedurende Fokofpolisiekar se breek van twee jaar is hul aanhangers in twee groepe verdeel: diegene wat wou sit en rustig Hunter se briljante lirieke saamneurie en diegene wat saam met  Francois en Wynand van die stage af wou spring. Eersgenoemde groep het na aKING begin luister; laasgenoemde na Van Coke Kartel.

 

aKING het die konvensionele resep gebruik en ’n Engelse pop-rockband op die been gebring. Die groep het met hul aansteeklike liedjies en opvallende lirieke groot aanklank onder Suid-Afrikaanse aanhangers gevind en het hulself gou bo-aan die trefferlyste bevind.

 

Fokofpolisiekar sing in “Die Grootste Gaping”: “ons soek die aandag van die breinlose gehoor.” Dit is presies wat Van Coke Kartel probeer vermag het. Geen slim versies, geen trefferlyste. Net rock. Vir die massas om mekaar in die moshpit te verniel. 

 

Van Coke Kartel het met hul selfgetitelde debuutalbum ’n nuwe genre verken: ’n mengsel van hard rock en punk, in Afrikaans. Dit kan bes moontliks beskryf word as Fokofpolisiekar se klipharde “Angsaanval”… konstant. Die lirieke is nie so skerp soos Hunter s’n nie, die kitaar-riffs nie naastenby so goed soos Johnny s’n nie, maar Van Coke Kartel het gewys hulle kán rock.

 

Hul nuwe CD, Waaksaam en Wakker, is onlangs vrygestel en bou voort op VCK se repertoire. Die klanke is bietjie sagter en die lirieke is weldeurdag, eenvoudig en eerlik. So sing Francois byvoorbeeld in “Soek en vind niks nie”: “Gee my net ’n kans om uit te pass. Dis al wat beplan.” Pateties? Moontlik. Eerlik? Beslis.

 

Van Coke Kartel verbaas wel met twee baie volwasse en selfs, wel, mooi liedjies in die vorm van “Ons moet hardloop” en “Wat het van ons geword”. In eersgenoemde sing hulle: “Ons almal kry ’n kans om te huil, ons almal kry ’n kans om in die grond te vrot, ons bly te bang.”en in laasgenoemde: Daar was ’n tyd toe musiek nog vir ons heilig was, toe die dwelms nog besonders was, en toe jou vriende nog verstaanbaar was.”

 

Die res van die album is die Van Coke Kartel van ouds – Jy hou daarvan of jy haat dit. Waaksaam en Wakker sal bestaande aanhangers oor en oor bevredig, maar nie noodwendig nuwe aanhangers win nie.

 

04
Sep
08

Antibiotika is dwelms; nie medisyne nie

Vir byna twee jaar moes ons soos dwelmverslaafdes in wit kamers sit en na die mure staar, terwyl gedagtes van Fokofpolisiekar tartend om ons koppe gedans het.

 

Maar nou is daar eindelik uitkoms, genesing: Die Karre het onlangs hul nuutste kortspeler, Antibiotika, tesame met ’n DVD met al hul musiekvideos, uitgereik. Dis ’n verligting om die groep weer bymekaar te sien en hul nuutste “dosis pynverdowers” stel nie teleur nie.

 

Die CD skop af met die kragtige titelsnit. Francois van Coke se rou stem skeur deur die kitaarklanke met die woorde: “wie sê Afrikaans is dood? Jammer meneer, ek het my les geleer!” en volskaalse choas bars los in ’n liedjie wat weerklink met Van Coke Kartel se geraas.

 

Die daaropvolgende “Van Weelde en Rykdom” het weer iets melancholies wat mens na die meesleurende Swanesang laat terugverlang.

 

Dan, “Tussen die Krake”, een van Fokofpolisiekar se beste liedjies tot dusver. Dis catchy, energiek en goed afgerond. Dit het ’n Amerikaanse punk-aanslag wat sterk herinner aan As jy met Vuur speel sal jy brand en meer onlangs, aKing se “Guilty as Sin”.  

 

Die vierdie en laaste liedjie op Antibiotika, “Kyk Noord”, is ’n grootse lied wat oor ’n refrein beskik wat hierdie ’n kenmerkende Fokofpolisiekar saamskree-treffer gaan maak.

 

Dit is duidelik dat Johnny de Ridder, hoofkitaarspeler, baie tyd en konsentrasie in die riffs gesit het. Antibiotika is op musikale vlak perdalks Fokofpolisiekar se beste poging nog. Die melodiese kitaarklanke is opvallend en sal by ’n breë groep aanhangers aanklank vind. 

 

Met Antibiotika doen Hunter Kennedy sy reputasie as beste Afrikaanse liriekskrywer gestand. Die lirieke – direk uit sy dagboek – verskaf ’n kontemporêre en kritiese perspektief op die huidige stand van Suid-Afrika en die jeug. In “Antibiotika” sing Francois: “donker afrika is net donker vir dié met oogklappe aan” en “ek’s net ’n toeris in my geboorteland. gekweste dier in ’n hok op antibiotika.”

 

Die dood word ook deur Fokofpolisiekar as subtema gebruik, soos in “Tussen die krake”: “my brose verstand wat wit, warm, soos ’n oop vlam  / hierdie lopende doodskis van my verbrand.” en meer eksplisiet in “Kyk Noord”: “ek weet die dood gaan my vind.” Tog is daar hoop in die wanhoop: “in ons verbrokkelende fondasie / is daar nou lewe in krake / waar daar eers niks was nie.” (“Tussen die Krake”)

 

Hoewel Antibiotika (soos meeste Fokofpolisiekar-musiek) verslawend is, het dit nie die poëtiese aanslag van vorige albums soos Monoloog in Stereo en Swanesang nie. Dis ook heeltemal te kort: Vier slukkies en die dosis is op.

 

In geheel is die CD egter ’n bevredigende produk deur die vaandeldraers van Afrikaanse rockmusiek. Dit is gerusstellend om te sien dat Fokofpolisiekar ná ’n breek van twee jaar steeds so geolie soos altyd is. Oor die musiekvideos hoef daar nie veel gesê te word nie. Ons almal het dit al gesien; ons almal weet dit maak ons net lus vir meer.

19
Aug
08

Ek kort medisyne!

Fokofpolisiekar bring na ‘n breek van amper twee jaar ‘n nuwe kortspeler, Antibiotika, asook ‘n DVD met al hul music videos, binnekort uit.

 Ek kan nie wag nie.

30
Jul
08

Lirieke vind gestalte uit alledaagse

’n Woordeboek, Die Bybel en ’n Afrikaanse gesegdeboek. Dít is wat Hunter Kennedy, liriekskrywer van Fokofpolisiekar, gebruik het om die groep se SAMA-bekroonde album, Swanesang, te skryf.

 Hunter, wat al deur Antjie Krog as “die volgende Breytenbach” bestempel is, se liriekskryfproses is eenvoudiger as wat ’n mens sou verwag. “Ek het ’n dagboek begin hou en net randomly deur die dag goeters neergeskryf waaraan ek dink, of wat ek hoor of waarneem. Aan die begin is dit heeltemal onsamehangend, maar soos wat ek daaraan skaaf en veran­der, neem dit vorm en kry betekenis.”

 Is Hunter se liedjies dus slegs “lukraak aanmekaargeslaan”, soos wat Fokofpolisiekar in “Heiden Heiland” sing? Volgens hom het sy li­rieke uiteenlopende betekenisse en kan luisteraars dit op totaal verskillende wyses interpreteer. Hy sê dit maak die lirieke meer universeel.

 Volgens Hunter het Fokofpolisie­kar se liedjieskryfproses aansienlik verander sedert die band se totstandkoming in 2003. “Aan die begin het ons nie eens daaraan gedink dat ons woorde skryf nie. Ek en Francois (Van Coke, hoofsanger) sou saam sit en woorde uitdink of ons sou apart skryf. Op As Jy Met Vuur Speel Sal Jy Brand en Lugsteuring het ek nog van die musiek geskryf, maar met Monoloog in Stereo het Johnny (de Ridder, hoofkitaar) die riffs gegee en dan gooi ons net die woorde daar­oor.”

 Hunter het met hul derde album, Monoloog in Stereo, vir die eerste keer sy rol as liriekskrywer permanent beklee. Gedurende dié tyd was Hunter baie angstig en soms geestes­ongesteld. Vandaar “Wintersdag by die seer” se lirieke: “my dokter het vir my pille voorgeskryf / dit hou my kalm as omstandighede my be­dreig / dit laat my droom / en ek was vir ’n lang ruk siek gewees daarvoor”.
“Dit was iets waarmee ek kon assosieer,” sê Hunter.

 So waar het dit als begin vir hier­die veelbesonge liriekskrywer? “Ek onthou toe ek op hoërskool was het ek en my vriende dikwels gaan skateboard ry. Ek het eenkeer net my eie song opgemaak en dit begin sing. My vriende het gedink ek’s mal, maar nou ja, dit het seker daar begin.”

 Hunter het later veral by sy Afrikaans­onderwyser by die Hoërskool DF Malan, wyle mnr Rheede, kosbare wysheid ingeneem. Aan die einde van sy Graad 11-jaar het Hunter saam met sy vriend Roux van der Merwe ’n amateur digbundel bymekaargesit en dit aan sy onderwyser gegee vir insette. Hunter het ook dikwels sy kunswerke (hy het kuns as vak gehad en ná skool vir twee jaar kuns gestudeer) aan sy onderwyser geneem om sy opinie te vra.

Hunter erken ruiterlik dat sy kennis van Afrikaanse digkuns nie na wense is nie. Hy was wel mal oor Raka deur NP van Wyk Louw en Breyten Breytenbach se Die Ysterkoei moet sweet. Hy bieg egter dat hy Ingrid Jonker se digkuns eers ontdek het toe haar gedigte deur Chris Chameleon getoonset is.

 Johannes Kerkorrel is volgens Hunter waarskynlik die enigste Afrikaanse sanger wat hom beïnvloed het. Hy hou ook van Toast Coetzer van The Buckfever Underground se lirieke. Volgens Hunter maak baie Suid-Afrikaanse bands die fout om nie te sing wat hulle wil sê nie, maar wat hulle dink luisteraars wil hoor.

Bruce Springsteen, Billy Joel en Paul Simon is van die kunstenaars wie se lirieke Hunter inspireer. Spring­steen se “Dancing in the Dark” is een van Hunter se gunstelinglirieke, en hy hou van Propaghandi se album Today’s Empires, Tomorrow’s Ashes.

 Hunter is ook die liriekskrywer van aKing en Die Heuwels Fantasties. “Met aKing besluit ek en Laudo (Lie­benberg, hoofsanger) waaroor ons wil skryf. Dis bietjie meer gestruktureerd, maar die beginsel bly dieselfde. Met Die Heuwels is dit oper en skryf ek en Pierre (Greeff) eintlik maar oor enigiets.”

 Hunter se gunsteling-Fokofpolisie­kar liriek kom uit “Tonnelvisie” op Lugsteuring: “daar is gif in jou kinders se kos / daar is tydbomme in gapings van opvoeding gelos”. Volgens Hunter­ geniet die band dit ook om inside jokes in hul liedjies in te werk. So sinspeel die ­lirieke uit “Vasbeslote korporasie (Deel 2)”: “ek wil uitverkoop / rock ’n roll / watookal / miskien sal die koerante ’n artikel daaroor skryf / ek vertrou in die status quo” byvoorbeeld op Fokofpolisiekar se oordadige publisiteit in die plaaslike koerante.

 En of Hunter ooit sukkel om te skryf? “Ja, fok, ek het heeltyd writer’s block. Die enigste manier om oor dit te kom is om aan te hou skryf.”

Hopelik sal hy.

Hierdie onderhoud is in Die Matie se Woordbylaag op 30 Julie gepubliseer. Blaai gerus daardeur en laat weet my wat jy dink. (Dis die laaste vier bladsye.)

23
Apr
08

Die ontmoeting… om ‘n halfverligte tafeltjie

 

Ek en Hunter Kennedy sit buite Klein Libertas om ‘n halfverligte tafeltjie. In die agtergrond speel heavy metal-musiek en hy neurie saam. Ek kyk onderlings na die vooropgestelde vrae op my notaboekie en besef dat ons gesprek absoluut niks met die onderhoud te doen het nie.

 

Ons praat oor Johannes Kerkorrel en Koos du Plessis. Oor punkbands en rock-feeste. Oor Billy Joel en Paul Simon. Oor Raka en Ingrid Jonker. Oor amateurpoësie en New World Inside. Oor die Afrikaanse musiekbedryf en MK. Oor JIP en Toast Coetzer. Oor aKing en Die Heuwels Fantasties. Oor “Gott und die Welt”…

 

‘n Klipgooi van ons af staan die verhoog leeg en half verleë. Dieselfde verhoog waarop Hunter-hulle opgetree het toe ek destyd hul Swanesang bekendstelling bygewoon het. Daardie briljante album, moontlik die beste in sy klas, wat Hunter geskryf het “met ‘n woordeboek, Die Bybel en ‘n Afrikaanse Gesegdeboek.” Ek sit verstom. Kan dit regtig so eenvoudig wees?

 

Vir Hunter, ja. Want soos wat die onderhoud/gesprek vorder, kom ek agter Hunter is ‘n legend, nie op die akademies geniale manier soos wat ek my dit voorgestel het nie, maar op ‘n onpretensieuse, eerlike, intuïtief briljante manier wat getuig uit sy lirieke.

 

‘n Onderhoud? Nouliks. ‘n Gesprek? Seker. Nou moet ek ‘n artikel daarvan maak.




die bands wat ek deesdae luister

Oktober 2019
M D W T V S S
« Apr    
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031  
Advertisements