Archive Page 2

24
Apr
09

Hit & run-skrywer se pot prut gedurig

etiennecroppedprofpic“Ek slaap by ’n oop deur in my huis in die middedorp en luister snags verras na die buzz tot vroegoggend. So anders as die besadigde nagte van my Stellenbosse studentedae…” Só vertel Etienne van Heerden, veelbekroonde skrywer wat al die

Hertzogprys ontvang het vir sy roman Toorberg, oor hoe sy lewe verander het sedert hy sy regsgraad in 1977 van die US ontvang het.

 

Hy sê hy het op vyftienjarige ouderdom begin lewe om te skryf. Hy en sy skoolmaat Koos Kombuis het saam gedigte en liedjies geskryf tydens hul jare in Paul Roos Gimnasium. Daarna het hy vir die Junior Libertas- teaterklub eenakters geskryf

en altyd die rol van die wroegende kunstenaar vertolk. “Casper de Vries was my eerste kabaret se beligtingsman en Antoinette Pienaar van Karoofaam en André Schwartz die minnesanger het ook daarin opgetree. Lekker politieke vuismakery gewees, kabaret in daardie jare.”

 

Van Heerden was ook redakteur van Die Matie voordat hy sy grad voltooi het. Volgens Van Heerden lewe hy om te skryf, maar skryf hy nie om te lewe nie. Vir brood op die tafel is hy vakgroephoof aan die Universiteit van Kaapstad (in die Skool vir Tale en Letterkundes) waar hy meestal werk met sy MA-studente in Skeppende Skryfwerk.

 

Hy is ook die stigter-redakteur van LitNet (www.litnet.co.za), wat volgens hom ’n opwindende projek is wat bestaan uit opinies oor enigiets van rockmusiek en politiek tot wyn en flieks. “LitNet is ’n virtuele gemeenskap wat koppig,  kwessiegedrewe en betrokke is. Menings is ons kernbesigheid. Om die gemiddeld meer as sestigduisend unieke gebruikers per maand oor al ons platforms heen te bestuur, is ’n avontuur.”

 

Van Heerden sien homself as hit & run-skrywer. LitNet en sy student neem al sy tyd in beslag. Wat sy kunstenaarskap betref, glo hy in die dekselteorie. “Onder die deksel prut die pot en stoom bou op en wanneer ek in byvoorbeeld Europa is, en gelukkig is om ’n studio te hê, haal ek die deksel af en dan skryf ek heerlik.”

 

Hy was gelukkig genoeg om só ’n studio te hê tydens die skryf van sy nuutste roman, 30 Nagte in Amsterdam. Hy was in 2007 vir drie reise in Europa. Tydens die tweede een het iets in in sy kop begin vorm aanneem weens die wegwees uit bekende waters. Zan, ’n karakter in die roman, het volgens Van Heerden soos onweer in sy kop uitgeslaan (hy noem dit Zanspeak) en hy kon haar nie uit sy ore kry nie. Toe hy weer ’n keer daardie jaar Amsterdam besoek en ’n studio op die Spui kon kry, was die koeël deur die kerk.

 

Van Heerden gebruik in baie van sy romans die stadsmilieu as agtergrond en vermeng dit met die tradisionele plaasroman. Sy gunstelingstede is New York, Berlyn, Rome en Parys. “Ongelooflike zones, wat my bloed opjaag en my hare laat rys; dis maar hoe ek op groot stede reageer. So in my romans In stede van die liefde (verskeie stede), 30 nagte in Amsterdam

(Amsterdam) en Casspirs en Campari’s (Kaapstad) het ek stede verken. Wat die plaas as agtergrond betref: Ek kom uit iets soos elf geslagte merinotelers van die Toorberg in die Oos-Kaapse Karoo, so ek werk graag ook met daardie ruimte.”

 

Oor die rigting wat die Afrikaanse letterkunde in die toekoms gaan invaar, het hy geen idee nie. Elke ontwikkelende skrywer wat voor hom sit, se kop raas volgens Van Heerden op ’n ander manier. Hy sien uit na mense wat kan vreemd maak, wat jou anders kan laat kyk na dinge wat jy gedink het jy reeds deurgekyk het – skryfwerk wat jou aandag gryp en wat inskryf teen  die groot dooiegewig van die gewoonte.

 

En sy eie toekomsplanne? “’n Mens moenie sommer oor brood in die oond of ’n virus in jou hardeskyf praat nie. Ek is besig met navorsing oor die broer van Vincent en Theo van Gogh. Sy naam was Cornelius, hy was in die Boere-oorlog en is op

Brandfort in die Vrystaat begrawe. ’n Onmerkwaardige man, wat my boei.”

 

Van Heerden gaan ook binnekort in 7de Laan verskyn. Hy verduidelik: “Kyk, ek kom uit die grafosfeer, ’n teksgebonde wêreld van boeke en koerante en afstandelike, verhewe skrywers. Maar ek moet vernuwe en begryp dis ’n nuwe wêreld, hierdie videosfeer. Ek spring dus in en enjoy, sonder om my neus op te trek. In my skryfwerk, egter, sal ek nie toegewings maak nie. Dáár eis ek die aandag van jou oë.”

 

Advertisements
24
Apr
09

30 Nagte slim en vermaaklik

30nagte_150x2251 

Etienne van Heerden is bekend daarvoor dat hy nie net aan sy romans individueel aandag gee nie, maar dat hy daadwerklik aan ’n oeuvre werk. Met sy nuutste roman, 30 Nagte in Amsterdam, gebruik hy elemente uit sy vorige boeke, asook nuwe karakters en sketse om homself opnuut as dié hedendaagse romanskrywer in Afrikaans te vestig.  

 

Henk de Melker voer ’n grys, vervelige bestaan as museumassistent in Somerset-Oos in die Karoo. Sy kluisenaarsbestaan sluit hom van die wêreld af en hy doen nooit iets opgewindends of gewaag nie. Hy is die skrywer van dun monografieë oor die lewens van onmerkwaardige mense wie se name in die gewone geskiedenis verlore gegaan het. Mense soos hyself.

 

Op ’n dag ontvang Henk ’n brief uit Nederland wat hom meedeel dat sy lankverlore tante, Susan de Melker, gesterf het en dat hy haar enigste erfgenaam is. Hy moet egter na Amsterdam reis om sy erfporsie op te eis. Aanvanklik is Henk, die “suutjies-suutjies” mens wat hy is, ongeneë om te gaan. Hy stem egter later in, aangesien hy navorsing wil doen vir sy nuwe monografie oor Cornelius van Gogh, Vincent se onbekende broer wat as lokomotiefbouer in Suid-Afrika gewerk het en in die Boere-oorlog dood is.

 

Die brief laat hom terugdink aan sy eksentrieke tante, wie hy as jong seuntjie op Graaff-Reinet so gevrees het. Zan, soos wat sy bekendgestaan het, het dikwels epileptiese aanvalle gekry en sou dan in deurmekaar-idiome praat, die Agste Kleur sien en die gevreesde Skuimbolaanvalle beleef. Sy het in haar eie wêreld geleef en sou dae lank in haar kamer vol glasvase deurbring.  

 

Wanneer Henk in Amsterdam arriveer, ondek hy dat sy tante op haar dag een van die grootste divas van die Hollandse teater was en ’n weelderige huis in Amsterdam besit het. Haar advokaat, ene Grotius, lig Henk in dat sy tante se wens was dat hy sy lewe op Somerset-Oos moet opgee en in Amsterdam moet gaan woon. Anders sal die huis aan ’n Luandese straatmusikant oorgedra word.

 

Gedurende sy 30 nagte in Amsterdam raak Henk meegevoer in ’n lewe van prostitute, sakkerollers en kommuniste. Want Henk ontdek gou dat sy tante deel was van die Sobukwe-sel, ’n anti-apartheidbeweging uit die tagtigerjare. Henk die historikus vind ook tot sy afgryse uit dat sy eie geskiedenis nie is wat hy gedink het nie.

 

Henk besef mettertyd hy is die Cor van Gogh in sy eie lewensverhaal – die een wat in sy tante se skaduwee wegraak, maar dat hy sy eie plek in die geskiedenis kan en moet oopskryf. Dat hy uit sy dop moet kruip en weer die avonturier van sy kinderdae moet word.

 

Van Heerden kies die tema van kolonialisme slim. In ’n tyd waar Afrikaanssprekendes op reëlmaat emigreer, span die skrywer die toubrug tussen Suid-Afrika en Nederland op konstruktiewe en speelse wyse. So word die Suid-Afrikaanse geskiedenis van Henk se museum, asook Zan se ouderwetse idiome gebruik om die parallelle tussen Suid-Afrika en sy koloniale grootouer Europa te trek.  

 

30 Nagte in Amsterdam is ’n vermaaklike en boeiende roman deur ’n deurwinterde skrywer. Vergeleke met Van Heerden se vorige, metafiktiewe roman, Asbesmiddag, wat die skrywer se ouevre op sy kop gedraai het, kom 30 Nagte egter ordinêr en onoorspronklik voor. Dis amper asof die boek “te goed” in die raamwerk van ’n roman inpas.

 

Nietemin is hierdie ’n briljante, vermaaklike en by tye skreeusnaakse boek wat enigiemand terdeë kan geniet.

 

01
Mar
09

Writer’s blog

What a bitch.

06
Feb
09

Bellville Rock City

bellville

19
Jan
09

Terug!

Goeienaand luisteraars.

Aan my aanhangers en minnaresse, die geesversteurders en dwelmverslaafdes: Ek’s terug!

Ja, ek leef, hoewel in die donker skadu’s van naamlose berge.

Blogs om na uit te sien:

Bellville Rock City/Johnny en die Maaiers/Fokofpolisiekar Film

Stellenbosch: perspektief

‘n Hele paar boekresensies

Iets oor liefde

‘n Blog oor die toekoms van my blog

Stil julle honger intussen elders, julle duisende!

28
Okt
08

Eksamen…

Swot tyd. Sug.

12
Okt
08

Waaksaam en Uitgepassde Kartel

Gedurende Fokofpolisiekar se breek van twee jaar is hul aanhangers in twee groepe verdeel: diegene wat wou sit en rustig Hunter se briljante lirieke saamneurie en diegene wat saam met  Francois en Wynand van die stage af wou spring. Eersgenoemde groep het na aKING begin luister; laasgenoemde na Van Coke Kartel.

 

aKING het die konvensionele resep gebruik en ’n Engelse pop-rockband op die been gebring. Die groep het met hul aansteeklike liedjies en opvallende lirieke groot aanklank onder Suid-Afrikaanse aanhangers gevind en het hulself gou bo-aan die trefferlyste bevind.

 

Fokofpolisiekar sing in “Die Grootste Gaping”: “ons soek die aandag van die breinlose gehoor.” Dit is presies wat Van Coke Kartel probeer vermag het. Geen slim versies, geen trefferlyste. Net rock. Vir die massas om mekaar in die moshpit te verniel. 

 

Van Coke Kartel het met hul selfgetitelde debuutalbum ’n nuwe genre verken: ’n mengsel van hard rock en punk, in Afrikaans. Dit kan bes moontliks beskryf word as Fokofpolisiekar se klipharde “Angsaanval”… konstant. Die lirieke is nie so skerp soos Hunter s’n nie, die kitaar-riffs nie naastenby so goed soos Johnny s’n nie, maar Van Coke Kartel het gewys hulle kán rock.

 

Hul nuwe CD, Waaksaam en Wakker, is onlangs vrygestel en bou voort op VCK se repertoire. Die klanke is bietjie sagter en die lirieke is weldeurdag, eenvoudig en eerlik. So sing Francois byvoorbeeld in “Soek en vind niks nie”: “Gee my net ’n kans om uit te pass. Dis al wat beplan.” Pateties? Moontlik. Eerlik? Beslis.

 

Van Coke Kartel verbaas wel met twee baie volwasse en selfs, wel, mooi liedjies in die vorm van “Ons moet hardloop” en “Wat het van ons geword”. In eersgenoemde sing hulle: “Ons almal kry ’n kans om te huil, ons almal kry ’n kans om in die grond te vrot, ons bly te bang.”en in laasgenoemde: Daar was ’n tyd toe musiek nog vir ons heilig was, toe die dwelms nog besonders was, en toe jou vriende nog verstaanbaar was.”

 

Die res van die album is die Van Coke Kartel van ouds – Jy hou daarvan of jy haat dit. Waaksaam en Wakker sal bestaande aanhangers oor en oor bevredig, maar nie noodwendig nuwe aanhangers win nie.

 




die bands wat ek deesdae luister

Oktober 2019
M D W T V S S
« Apr    
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031  
Advertisements